Close Icon

KleuterAkademie
Legacy

Juanita van der Walt, stigter en hart van KleuterAkademie, het ‘n groot behoefte raakgesien aan goeie kleuterskole in die omgewing.  

Daarom het sy besluit om haar eie opvoedkundige kleuterskool vir haar twee seuns oop te maak.  

Ons geskiedenis

So het Sonstraal KleuterAkademie  in 2010 begin met 6 kinders en 2 onderwyseresse. Dit was ‘n klein begin in Juanita se braaikamer, en die skool was slegs halfdag oop tydens die skoolkwartale.

KleuterAkademie het vinnig gegroei en die aanvraag was daar. Met haar unieke program en gestruktureerde aktiwiteite het sy ‘n wenresep gehad. In September 2011 het Sonstraal KleuterAkademie verskuif vanaf haar huis en Durbanville KleuterAkademie het sy deure oopgemaak in The Crest, Durbanville. Dit was oop vir voldag inskrywings en ook tydens skoolvakansies. Die getalle het net gegroei en gegroei.  Juanita het vinnig gesien daar is ‘n aanvraag in die groter Durbanville area.  So het Eversdal KleuterAkademie die lig gesien Oktober 2013 in Kendalweg.  

Kort daarna het sy nog ‘n perseel bekom en Sonstraal KleuterAkademie maak oop Januarie 2015 in Van der Byl Straat, Durbanville. Meer onlangs is Graad R KleuterAkademie gebore in Eversdal en spog nou met 3 pragtige klasse en gelukkige kinders.

Net klasgee was nie genoeg nie en Juanita het van die begin af uitstekende konserte gereël en op die planke gebring.  Die eerste konsert was gehou in die Durbanville Rugbyklub. Baie klein met min kindertjies. So groei die skole en maak ons nou ‘n groot verhoog en saal vol met pragtige musiek, ligte en dekor.   Dit het nou al so gegroei dat ons drie aparte konserte in ‘n propvol saal aanbied.

Dit is vir ons hartseer dat Liewe Jesus sy engel Juanita kom haal het.  Maar dit is ook vir ons ‘n groot voorreg en eer om haar passie en toewyding voort te sit met die vier KleuterAkademies onder leiding van haar man, Waldo van der Walt.

Bestuurspan

Anri

Anél

Heidi

Leandri

Lauren

Ons missie

Ons missie is om ‘n onderrigfasiliteit te wees wat die ontwikkeling en opvoeding van die kinders wat in ons sorg geplaas is, op ‘n bekwame en unieke manier te behartig en om die belange en welsyn van die kinders eerste te plaas met elke besluit wat geneem word.  

Ons kinders is ons toekoms en ons moet hulle voorberei en toerus om dit met selfvertroue tegemoet te gaan. Ons besef dat die mense wat ons kinders van dag tot dag versorg, ‘n lewenslange impak op hulle lewens het en daarom word die personeel wat ons aanstel, sorgvuldig gekies en opgelei.

Ons wens is dat ons kinders, ouers en personeel die volgende ervarings by KleuterAkademie sal hê:

Vir ons kinders

Om versorg te wees en met respek en liefde hanteer te word.

Om voordeel te trek uit ‘n leeromgewing wat die suksesvolle bereiking van die ontwikkelingsmylpale bevorder, insluitende kognitiewe, fisieke, sosiale, sensoriese en emosionele groei.

Om uiteindelik voorbereid te wees vir die toekomstige uitdagings van primêre skool.

Om ‘n gesonde selfbeeld te ontwikkel, selfvertroue te bou en selfstandig te wees.

Vir ons ouers

Om gemaklik te voel om met die onderwyseresse en personeel te kommunikeer en dit te geniet om ‘n aktiewe rol in hul kind se sorg en ontwikkeling te speel.

Om verseker te wees dat hulle deurentyd hul kind in die beste moontlike sorg plaas.

Om te glo in ons onderrigspan se verantwoordelikheid en toewyding teenoor hul kind en sy/haar ontwikkeling.

Vir onsself

Om die bevrediging te ervaar wat kom van die erkenning van ons gemeenskap en kollegas dat, wat ons vermag, spesiaal is en iets is om op trots te wees.

Om ons werk te kan doen in ‘n omgewing wat eerlik, opreg, samewerkend, uitdagend en stimulerend is.

Om die unieke interne bevrediging te ervaar wat spruit uit die positiewe bydrae wat ons maak in die ontwikkeling van ons leerders.

Om gesien te word as ‘n groep mense wat ‘n passie het vir wat hulle doen en graag ‘n verskil wil maak in die lewe van die kinders wat ons onderrig.

Ons beginsels

Die Akademie se opvoedkundige beginsels is gegrond op tegnieke wat die volgende bevorder:

  • Motoriese vaardighede
  • Selfontdekking en kreatiwiteit
  • ‘n Verantwoordelikheidsin
  • Godsdienstige en etiese waardes
  • Gesonde sosiale verhoudings met maats en volwassenes
  • Respek vir eie en ander se besittings, tyd en spasie
  • Lewensvaardighede
  • ‘n Positiewe selfbeeld
  • Skoolgereedheid

KleuterAkademie bied ook ‘n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite aan wat deur gekwalifiseerde fasiliteerders by die skool aangebied word tydens buitespeeltyd.

Demonstrasieklassies word aan die begin van die jaar gehou sodat ouers en kinders kan kies waaraan hul belangstel om deel te neem.